Habitat – Bastergemsbok

Gert Fourie

“Wil jy in hierdie area met bastergemsbok teel?” was my vraag aan die voornemende teler. ..Ons ry verder deur die “soeter” deel van die plaas. Die gras is goed bewei en bosse en bome begin effens dig raak. Dit is duidelik dat hierdie wildboer die teelareas so na as moontlik aan sy huis wou hê. Dit het omtrent oortuiging van my kant gekos om die klient die voordele van die beter habitat wat meer ooreenstem met bastergemsbok se natuurlike voorkeur, te kies. My aanslag was dat die diere net eenvoudige beter sou presteer in die omgewing wat ek uitgewys het en dat die sogenaamde voordeel van ‘n kamp nader aan die bestuurdershuis nie opweeg teen die voordeel van gelukkige diere in hul voorkeurhabitat nie.

BastergemsbokIn die natuur:

Bastergemsbok word dikwels in die natuur in ekotone tussen ligte beboste veld en oop grasveld aangetref. Waar die meeste wildsoorte korter gras verkies, verkies hierdie diere areas met medium tot lang gras. Vloedvlaktes is ‘n groot aantrekking vir bastergemsbok.Digte beboste areas word heeltemaal vermy en boomareas waar die kroonbedekking hoog is, word ook nie verkies nie. Hierdie diere hou van oop struikveld en grasveld of areas met verspreide bome en goedbedekte graslaag.Bastergemsbok verkies vlakte areas bo bergagtige areas. Areas met effense hellings wat noord front en selfs effense klipperigheid kan benut word, maar is nie eerste keuse vir hierdie diere nie.

Op die teelplaas:

Net soos swartwitpens kan hierdie diere gevoer word, sou die ideale weiding nie voorkom nie, maar dit is altyd beter om hulle te vestig in ‘n area waar daar reeds genoegsame geskikte habitat en weiding teenwoordig is.

Weiding:

Bastergemsbok is fynproewers en soek spesifieke dele van grasse uit. Hierdie diere sal ook aan grasse vreet wat geensins of min deur ander wild gevreet word. Net soos Swartwitpens vermy hulle kort afgeweide areas en hou hul geensins van groot veranderings soos gebrande veld of afwei van weiding in hulle habitat nie. Grasse van tot 1.5m hoog word gevreet en dan word die groener dele van die gras uitgesoek en gevreet vanaf 8cm bokant grondvlak en hoër. ‘n Groot verskeidenheid grasse word verkies maar grasse wat die meeste verkies word is onder andere – Themeda triandra, Schmidtia pappophoroides, Setaria incrassate, Setaria woodii, Melinis repens, Panicum coloratum, Heteropogon contortus, Digitaria pentzii, Eragrostus superba, Schizachyrium sanguineum, Hyparrhenia hirta, Trichoneura grandiglumis en Hyperrhenia hirta.Die laasgenoemde spesie (dekgras) kom dikwels in oulande voor. Die ideale areas waar hulle geteel kan word is dikwels naby vleie of die oorganggedeeltes van oulande na beboste areas aangesien baie van hierdie bogenoemde grassoorte daar voorkom. Soos met swartwitpens is die ideale kamp vir hierdie diere die een waar min beweiding plaasvind en grasse redelik lank en onbenut is.Goedgedreineerde grond word ook verkies bo kleierige grond, alhoewel bastergemsbok al op kleierige grond ook suskesvol geteel is.

Boomsamestelling:

Bastergemsbok vreet min aan bome en struike, maar benut meer bome as swartwitpens en daarom is hul kondisie dikwels beter as die van swartwitpens tydens droë jare wanneer hul aan die einde van die droë seisoen aan houtagtiges ook vreet. Acacias, Rhus spesies (Karee spesies) en Olienhout is onder andere van die bome wat in kritiese tye gevreet sal word. Die struktuur van bome en bosse speel ‘n groot rol in hul habitatvoorkeur aangesien bastergemsbok die ooptes verkies – die ideale habitat om vir hulle te kies is dikwels die oorgang tussen ‘n goed hervestigde ouland en ‘n oop boom of struikveld. Soos met swartwitpens word digte bos heeltemaal vermy.

Watervoorsiening:

Bastergemsbok is baie afhanklik van water en in die natuur beweeg hul gewoonlik nie verder as 4km vanaf die naaste water af nie. Bou drinkplek verkieslik op grondvlak en met ‘n geleidelike helling sodat kleintjies maklik uit die water kan kom indien hul sou inval. Vermy beeskrippe ten alle koste. Soos in die vorige gevalle is die aanbeveling twee waterpunte per kamp.

Vuur:

Bastergemsbok verkies langgrasareas en kampe op die plaas met die langste gras word dikwels aan hulle voorsien, daarom is die kans vir ernstige warm vure groter in die areas waar hul loop. Sou ‘n brand deur hul kamp beweeg, is daar ‘n gevaar dat diere kan doodbrand. Behoorlike brandbane en afsnypunte rondom en selfs in die kamp is ‘n vereiste sodat effektiewe brandbeheer toegepas kan word.Soos reeds genoem is dit beter dat daar nie beheerde brande in ‘n kamp toegepas word waar bastergemsbok loop nie aangesien hul nie hierdie gebrande areas verkies nie.

Grootte van die kamp:

Dit is beter om nie hierdie diere te intensief aan te hou nie – nie alleenlik omdat dit opbou van parasiete kan veroorsaak nie, maar ook omdat bastergemsbok in die natuur groter loopgebiede as meeste ander spesies verkies (in die natuur so groot soos 1500ha loopgebied vir ‘n trop).Hou bastergemsbok alleen in die kamp aan. Hoe groter die kamp, hoe beter. Die aanbevole grootte van die kamp vir ‘n troppie van 8 tot 12 bastergemsbokke moet eerder nie kleiner as 50 hektaar wees nie en dan moet al die veld geskik wees vir hierdie diere en voer voorsien word. Bewaringsowerhede in meeste provinsies beveel 400 hektaar aan as ‘n minimum grootte vir die aanhou van bastergemsbok. Hierdie diere is egter al suksesvol op baie kleiner gedeeltes geteel.

Hierdie artikel te danke aan Wild en Jag Tydskrif

Gert en Nanette Fourie help al die afgelope 18 jaar grondeienaars met die aankoop van hul wildplase asook die optimalisering daarvan en is daarom gereeld betrokke by bestaande of nuwe telers se beplanning van kampe en stelsels. Hulle bou ook al ‘n aantal jare passiewe vangbomas vir wild. Skakel hul gerus by 082 929 5277 of epos nainfo@ekofocus.co.za. Sien ook www.ekofocus.co.za