Habitat – Njala

Gert Fourie

‘n Pragtige bok wat sommer baie vinnig baie mak word. Geen wonder dit is so gewilde dier om mee te teel nie. Hulle prys is ook van so aard dat jy nie jou oupa se erfgrond hoef te verkoop om hulle aan te koop nie. Weens die nie-territoriale aard van Njala word hulle gereeld in kleiner kampies geteel vanwaar hulle intensief bestuur kan word. Alhoewel hierdie ‘n baie aanpasbare spesie is, vaar hulle tog beter onder sekere habitattoestande.

In die natuur:

Die njala is ‘n gemengde vreter en het ‘n groot behoefte na genoegsame skuiling wat vreetbare blaarvoeding bied asook areas met goeie grasbedekking aangesien hulle in die natuur redelik algemeen wei, veral vroeg in die seisoen wanneer vars gras beskikbaar is. Histories het njala hoofsaaklik in die warmer dele van Suid-Afrika voorgekom, veral in laeveldgedeeltes waar ryp amper nooit voorkom nie. Hierdie diere assosieer veral met digter bos in bosveld en ander droëer boswoude. Njala in die natuur is nie afhanklik van water nie maar indien teenwoordig spandeer hulle baie tyd naby water.

Op die teelplaas:

 Die wildboer kan nie altyd presies die regte habitat op sy plaas voorsien as waar njala natuurlik sou voorkom nie. Alhoewel njala ‘n baie aanpasbare dier is, is dit egter tog belangrik dat wanneer ‘n voornemende wildboer en grondeienaar na ‘n wildplaas soek of wanneer die mees geskikte gedeelte op ‘n wildplaas vir njala gekies moet word, dat daar na die weiding en boomsamestelling in meer detail gelet word.

Weiding:

Njala is selektiewe vreters en veld met genoegsame korter tipe vars uitgegroeide gras word gevreet. In die vroegsomer is njala meer ingestel op grasse as struike. Tydens die vroeë somer kan hul soveel as 70% gras vreet. Later in die seisoen vreet Njala so min as 30% gras en selfs minder, afhangende van die beskikbaarheid van geskikte grasse. Omdat hulle klein diere is, met selektiewe vreetgewoontes hoef hul nie groot volumes grasse in te neem nie en daarom kan hul goed vaar in veld wat soms voorheen oorbewei is en in ‘n sub-klimaks of selfs pionier toestand is. Geen lys van spesifieke voorkeur grassoorte is al aangeteken nie, maar die sagter tipe soos Panicum maximum sal verkies word. ‘n Variasie van kruide word ook gewei.Omdat njala klein diere is en min voedsel per dier inneem, is dit sinvol vir die intensiewe teler om te voorsien in ‘n vol rantsoen vir hierdie diere waar habitat minder geskik is.

Boomsamestelling:

Njala word altyd naby digter bos aangetref en alhoewel hul dit soms in oop grasveld waag, is hul nooit te ver van kolle met digter bos nie. Boom- en bosstruktuur speel gevolglik ‘n rol in hul habitatvoorkeur aangesien hierdie diere dit verkies om veral bedags onder bome en tussen digter plantegroei te beweeg en gewoonlik slegs in die nag in oper areas gevind word. Indien die veld oorwegend oop is, moet daar ten minste een of meer boseilande teenwoordig wees waar njala in kan “verdwyn”. Bosverdigte areas kan ook voordelig wees vir hierdie diere en veral in areas waar njala nie histories voorgekom het nie en die winters koud raak is dit belangrik dat daar van hierdie skuiling gebruik gemaak kan word.Njala het ‘n voorkeur vir Acacia (doringveld) en benut ook veral Spirostachys africana. Meeste doringagtige bome en struike word gevreet maar ook ‘n rits ander wat nie dorings het nie soos Ehretia rigida. Aan die einde van die winter sal njala selfs blare vanaf die grond vreet maar dit is beter dat daar ‘n groot variasie struike en bome op die plaas is sodat daar boomspesies is wat vroeg (voor die reentyd) al blare voorsien. Vrugte en peule word ook uitgesoek en soms word selfs boombas gevreet. Dit is duidelik dat hierdie diere opportunisties is en baie kan aanpas by hul omgewing.

Watervoorsiening:

Hierdie diere is in die natuur nie baie afhanklik van water nie en word soms aangetref in areas waar daar net seisoenaal water beskikbaar is. Indien water beskikbaar is sal hulle egter gereeld drink. ‘n Enkele waterpunt in hul kamp is nie ‘n groot probleem nie aangesien daar nie territoriums gevorm word nie.

Parasiete:

Hoe meer intensief njala in ‘n kamp aangehou word (grootte van die kamp en hoeveelheid diere), hoe groter die kans dat die parasietlading kan opbou. Die aanbevole grootte van die kamp hang baie af van die tipe weiding wat beskikbaar is en of te wel al die areas ewe goed benut gaan word. As ‘n reel moet ‘n troppie van 15 njala nie in kampe kleiner as 15hektaar geskikte veld aangehou word nie.. Bewaringsowerhede beveel 50 hektaar aan as ‘n minimum grootte vir die aanhou van njala. Njala hou daarvan om gereeld uit voerbakke te vreet en soos reeds gemeld word hul baie mak om hierdie bakke. Die opbou van parasiete is egter ‘n moontlikheid en daarom is dit beter om meer as een voerplek in ‘n kamp te hê en die voerplekke af te wissel.Gert en Nanette Fourie help al die afgelope 18 jaar grondeienaars met die aankoop van hul wildplase asook die optimalisering daarvan en is daarom gereeld betrokke by bestaande of nuwe telers se beplanning van kampe en stelsels. Hulle bou ook al ‘n aantal jare passiewe vangbomas. Skakel hul gerus by 082 929 5277 of epos nainfo@ekofocus.co.za. Sien ookwww.ekofocus.co.za

Vuur:

Vuur bestuur is belangrik wanneer daar met njala geboer word. Vuur is normaalweg voordelig vir roobok want hul het ‘n voorkeur vir die nuwe vars groen gras en dikwels word die vreetbare bosse ook weer afgebring op bereikbare hoogtes deurdat die bos onder uitgroei. Te gereelde vure en baie warm vure gaan egter die digter bosgedeeltes verwoes en die habitat ongunstig maak vir hierdie diere.

Hierdie artikel te danke aan Wild en Jag Tydskrif

Gert en Nanette Fourie help al die afgelope 18 jaar grondeienaars met die aankoop van hul wildplase asook die optimalisering daarvan en is daarom gereeld betrokke by bestaande of nuwe telers se beplanning van kampe en stelsels. Hulle bou ook al ‘n aantal jare passiewe vangbomas vir wild. Skakel hul gerus by 082 929 5277 of epos nainfo@ekofocus.co.za. Sien ook www.ekofocus.co.za