Habitat – Rooibok

Gert Fourie

Teel met wild het in die laaste paar jaar ‘n nuwe baadjie gekry. Skielik het mens te doen met rooibokke wat   R150 000 en meer werd is en intensief geteel word. Alhoewel 98% van alle rooibokke in SA steeds redelik ekstensief op oop plase aangehou word is dit steeds ‘n sleutelspesie vir die jagplaas asook vir die intensiewe teler (wat met spesiale kleurvariasies teel). Dikwels word hierdie diere ook deesdae in kleiner kampies aangehou vanwaar hulle intensief bestuur kan word. Daarom is dit belangrik om hulle habitatbehoeftes te verstaan ten einde die optimum resultate te lewer.

In die natuur:

Die rooibok is ‘n gemengde vreter en het ‘n groot behoefte na kort smaaklike gras, vreetbare struike, genoegsame skuiling, skaduwee en water, daarom het rooibokke histories op baie beperkte plekke buite die bosveld voorgekom en assosieer hulle meer met savanna en digter bos. Rooibok in die natuur spandeer dikwels baie tyd naby water waar hulle soms tot twee maal per dag drink en bly dikwels in die digter geassosieerde bos rondom hierdie waterpunte.

Impala MP1
The 26″ Impala ram, “Veters” – Photo supplied by Mpatamacha

Op die teelplaas:

Dit is te verstane dat die wildboer nie altyd presies dieselfde habitat kan voorsien as waar rooibok natuurlik sou voorkom nie. alhoewel rooibok ‘n baie aanpasbare dier is, is dit egter tog belangrik dat wanneer ‘n voornemende wildboer en grondeienaar na ‘n wildplaas soek of wanneer die mees geskikte gedeelte op ‘n wildplaas vir rooibok gekies moet word, dat daar na die weiding, boomsamestelling en watervoorsiening in meer detail gelet word.

Weiding:

Rooibokke het ‘n behoefte aan kwaliteit grasse nodig. Hierdie diere is selektiewe vreters en veld met genoegsame korter tipe voorkeur grasspesies is belangrik. In die somer is rooibokke meer ingestel op grasse as struike. Rooibokke sal veral tyd spandeer om aan smaaklike korter groen grasse te vreet. Omdat hulle klein diere is, met selektiewe vreetgewoontes hoef hul nie groot volumes grasse in te neem nie en daarom kan hul goed vaar in veld wat soms voorheen oorbewei is en in ‘n sub-klimaks of selfs pionier toestand is. Grasse wat verkies word is onder andere Panicum maximum, Panicum repens, Cynodon dactylon, Digitaria eriantha, Brachiaria nigropedata, Urochloa spesies en Themeda triandra. Rooibok het ‘n groot voorkeur vir gebrande veld.Omdat rooibokke klein diere is en min voedsel per dier inneem, is dit sinvol vir die intensiewe teler om te voorsien in ‘n vol rantsoen vir hierdie diere waar habitat minder geskik is. Om hierdie rede kan kampe war slegs klein teeltroppies en een teelram aangehou word, klein wees.

Parasiete: 

Hoe meer intensief rooibokke in ‘n kamp aangehou word (grootte van die kamp en hoeveelheid diere), hoe groter die kans dat die parasietlading kan opbou. Die aanbevole grootte van die kamp hang baie af van die tipe weiding wat beskikbaar is en of te wel al die areas ewe goed benut gaan word. As ‘n reel moet ‘n troppie van 8 tot 12 rooibokke nie in kampe kleiner as 100hektaar aangehou word nie en in rooibok se geval is groter altyd beter. Bewaringsowerhede bevel 400 hektaar aan as ‘n minimum grootte vir die aanhou van rooibok. Soos voorheen genoem is dit beter om meer as een waterpunt in ‘n kamp te hê en indien aanvullende voeding gegee word, behoort meer as een voedingstasie ook gebruik te word en af en toe afgewissel word.As wildboer kan jy net diere aanhou in ‘n kamp of jy het die keuse om werklik die beste opsie vir jou waardevolle diere te bied.

Boomsamestelling:

Rooibokke vreet hoofsaaklik grasse, alhoewel dit al aangeteken is dat hul wel in mindere mate blare van struike en bome sal inneem. Die boomspesies in hul habitat is dus nie baie belangrik nie. Bome en bosse speel wel ‘n rol in hul habitatvoorkeur aangesien hierdie diere dit verkies om bedags onder bome en tussen digter plantegroei te beweeg. Rooibokke se liggaamstemperatuur verhoog vinnig in die dag, veral weens die donker kleur van hul velle en daarom verkies hulle om uit die son te bly. Dit is daarom belangrik dat daar genoegsame bome en struike in hul kamp teenwoordig is. Snags sal rooibokke oper gedeeltes met goeie weiding baie goed benut en daarom is dit nie ‘n probleem as daar oulande of groot grasvelde ook in hul kamp teenwoordig is nie.Te veel bome in ‘n kamp is nadelig vir monitering van die diere, aangesien rooibok geneig is om bedags te “verdwyn” in hierdie digte areas. ‘n Hoë digtheid bome en struike gaan ook dikwels gepaard met ‘n swakker graslaag en daarom moet hierdie areas verkieslik beperk wees in die rooibokkamp.

Watervoorsiening:

Hierdie diere drink baie water, soms tot twee maal per dag. Indien daar ‘n groot aantal rooibokke in ‘n kamp is, gaan daar gevolglik oorbeweiding plaasvind rondom die water indien slegs een waterpunt teenwoordig is en soos reeds genoem vermy rooibokke oorbeweide gedeeltes. Dit is gevolglik raadsaam om meer as een waterpunt in hul kamp te plaas en sodoende minder druk by een waterpunt te hê. Deur die een waterpunt toe te maak en ‘n ander oop, gaan die potensiële lading parasiete by een fokuspunt ook tot ‘n mate uitgeskakel of verminder word. Rooibokke hou daarvan om sommer in die water te kan instap en dit speel ook ‘n rol by hul liggaamstemperatuur regulering. Om hierdie rede is suipings op grondvlak of selfs gronddamme baie geskik vir hul. Daar word gereeld in modder gerol deur veral bulle en hierdie gedrag speel ook ‘n rol by hul temperatuur regulering.

Vuur:

Vuur bestuur is belangrik wanneer daar met rooibokke geboer word. Omdat die areas met die beste en langste gras op die plaas aan hul voorsien word, is die kans vir ernstige warm vure groter in die areas waar hul loop. Sou ‘n brand deur hul kamp beweeg, is daar nie net ‘n gevaar dat diere kan doodbrand nie, maar warm vure kan ook die boomlaag ernstig beskadig en te oop toestande vir rooibok skep. Verder vreet hierdie diere groot aantal voer elke dag en sou al die weiding in hul kamp brand, kan tydelike voervervanging ‘n groot finansiële impak hê. Sorg om hierdie rede dat behoorlike brandbane en afsnypunte rondom en selfs in die rooibokkamp teen woordig is om effektiewe brandbeheer te doen. Dit is meestal nie nodig om beheerde brande in ‘n rooibokkamp te doen nie, aangesien rooibokke lang gras baie meer effektief kan benut as meeste ander diere.

Hierdie artikel te danke aan Wild en Jag Tydskrif

Gert en Nanette Fourie help al die afgelope 18 jaar grondeienaars met die aankoop van hul wildplase asook die optimalisering daarvan en is daarom gereeld betrokke by bestaande of nuwe telers se beplanning van kampe en stelsels. Hulle bou ook al ‘n aantal jare passiewe vangbomas vir wild. Skakel hul gerus by 082 929 5277 of epos nainfo@ekofocus.co.za. Sien ook www.ekofocus.co.za