Weed Control

Effektiewe beheer van onkruid op grensdrade en wildwering

As mens oor hierdie onderwerp wil praat, moet jy eers die term “onkruid” behoorlik omskryf.  Vir die doel van die artikel kan alle plante wat groei waar mens hulle nie wil hê nie, as onkruid beskou word.  Dit sluit enige plantegroei in wat heinings en wildwering kan beskadig, soos deur brand of meganiese skade.

Grondeienaars sou vermoedelik nie droom om met ‘n bakkie van R400 000 rond te ry alvorens dit behoorlik verseker is nie en tog is daar heelwat wat ‘n kans vat met oneffektiewe of selfs geen onkruidbeheer op wildwering wat veel waardevoller is as ‘n plaasvoertuig.  Om nie eers te praat van die waarde van die vee of wild agter daardie heining nie!  Die koste van onkruidbeheer is werklik ‘n fraksie van die waarde van die belegging in infrastruktuur en lewende hawe.

Onkruid in heinings en wildwering skep probleme, soos:

  • Dit tap krag van elektriese heinings en veroorsaak dat dit nie behoorlik funksioneer nie – iets wat eienaars van waardevolle vee en wild kan nie bekostig nie.

  • Bome en struike kan wildwering beskadig; wat ook kan lei tot ontsnapping van lewende hawe.

  • Effektiewe onkruidbeheer verbeter toegang, sig en gehalte van inspeksies op heinings sodat instandhouding makliker en betyds kan geskied.

  • Hooggroeiende onkruid langs heiningshou brandgevaar in vir die heinings, lewende hawe en buurplase. Brand is sekerlik die belangrikste enkele faktor wat die lewensduur van ‘n heining kan kan inkort. Volgens die Hot Dip Galvanising Association of South Africa, behoort ‘n draad met sowat 250g galvanisering verskeie dekades diensbaar te bly in ‘n plattelandse gebied waar korrosie nie aangehelp word deur besoedeling en/of seelug nie. Op die webwerf van die hierdie organisasie is ook ander interssante inligting.  Volgens hulle maak dit nie juis sin om draad met die dunste galvanisering te gebruik nie omdat die leeftyd daarvan bepaal word deur die dikte van die lagie sink wat die staaldraad bedek, ongeag die dikte van die draad.  Draad maak reeds sowat 50 % van die totale koste uit van enige heining.  Die dunner sinkbedekking mag dus ‘n geval wees van goedkoop is duurkoop.

  • Sink (Zn) smelt by 419.5°C.  As ‘n vuur dus hierdie temperatuur oorskry, mag die sink wat jou staaldraad teen roes beskerm, smelt en die staal self blootstel aan korrosie – ‘n hoogs ongewenste situasie.  In ‘n proef wat deur die LNR uitgevoer is, het ‘n grasbedekking van 0,5kg/m² wat gebrand het ‘n temperatuur van 307°C bereik.  Aan die ander kant het ‘n grasbedekking van 1kg droë material/m² ‘n temperatuur van 650°C bereik.  Al wat nodig is om ernstige skade aan te rig, is 10 minute van hierdie intense hitte.

  • Daar was geen wesentlike verskil in die tempo van korrosie tussen die boonste en die onderste drade nie – anders as wat algemeen verkondig word.

Bronne: (1) – Rhodge Bronkhorst & Rob White LNR/ARC ISBN 0-625-15495-2; (2) – Hot dip galvanizing association of South Africa (www.hdgasa.org.za- gevolg deur – bladsye 17 en 18).

Verskeie onkruidbeheer-opsies kan oorweeg word.

1. Meganiese beheer (kap, skoffel of sny)

  • Voordele:

    • Hoë-vlak arbeid is nie ‘n vereiste vir hierdie tipe werk nie.

    • Oor die algemeen word goedkoper toerusting gebruik.

    • Toesig is ietwat minder kritiek.

  • Nadele:

    • Stadige proses;

    • Grondversteuring wat lei tot ontkieming van saad en verhoogde risiko van gronderosie vind plaas;

    • Hoogstens tydelike beheervan houtagtige plante;

    • Potensiaal vir meganiese skade aan die heining is relatief hoog

 2.Chemiese beheer

 2.1 Selektiewe en nie-selektiewe onkruiddoders

  • Selektief

Hierdie tipe produk werk gewoonlik op óf grasse óf breëblaar-tipe plante, mits mens nie die voorgeskrewe dosis oorskrei nie.

  • Nie-selektief

Breëblaar (dikotiele of twee-saadlobbige plante). Meeste bome is tweesaadlobbig.

Produkte in hierdie groep onderskei nie effektief tussen breëblare en grasse nie en kan dus baie nuttig wees waar algehele onkruidbeheer ‘n vereiste is.  Van hulle, veral díe met lang nawerking in die grond, kan egter ook ernstige skade aan gewenste plante soos bome aanrig as mens dit nie oordeelkundig aanwend nie!  Mens behoort dus jou buurman in kennis te stel indien jy hierdie tipe onkruiddoder gaan gebruik op julle grensdraad!

Ten einde ‘n suksesvolle chemiese onkruidbeheerprogram op wildwering in werking te stel – sonder onbedoelde skade – oorweeg die volgende situasies op die plaas voordat daar op spesifieke onkruiddoders besluit word: 

Grasse (mono-kotiel of eensaadlobbig)

1. met gewenste plantegroei en/of hellings waar gronderosie kan ontwikkel en/of waterbronne in die vorm van riviere, damme of boorgate;

2.waar geen gewenste/waardevolle plantegroei voorkom nie, met geen  waterbronne en geen risiko van gronderosie nie;

3.min of geen gevestigde gras en kruide teenwoordig.

Situasie Tipe produk wat gebruik kan word
Sensitief areas Geen of ligte nawerking in grond; veilig t.o.v. bome, bv. Kilo Max, Seismic, Suburb SC. Hierdie produkte bevat o.a. glifosaat wat net deur groen, aktiefgroeiende plante opgeneem kan word. Glifosaat is nie-selektief (beheer breëblare en grasse). Suburb SC bevat, benewens glifosaat, ook terbuthielasien wat beperkte nawerking verskaf maar min gevaar inhou vir bome.
Nie-sensitief Nie-selektief met lang nawerking in grond; beheer houtagtige plante, grasse en breëblaarplante, bv. Bundu SC, Tandem WSG, Format. Om die doodmaakproses te bespoedig, kan hierdie produkte met Kilo Max of Seismic gekombineer word in die spuittenk. Sodoende kry mens as’t ware ‘n dubbelaksie met‘n vinnige uitklop van gevestigde plante, asook ‘n lang nawerking in die grond waardeur ontkiemended sade onderdruk word. Al voorgenoemde produkte mag ook bome dood of beskadig.
Net houtagtige plante Boomdoders; mag selektief of nie-selektief wees. Hierdie produkte se selektiwiteit hang af van aanwending en dosis. Solank mens net spesifieke teikenplante behandel, is hulle selektief, maar om skade aan nie-teikenplante te beperk moet mens sulke plante vermy tydens toediening. Browser val in hierdie kategorie, maar Browser (en soortgelyke produkte) in besonder, het ook die vermoë om deur plantwortels geabsorbeer te word. Gekombineer met ‘n relatief lang nawerking, kan dit lei tot beduidende skade aan nie-teikenplante; tensy mens die gebruik beperk tot stompbehandelings of loofbehandelings en toediening vermy binne die wortelsone van waardevolle bome. Om hoogs selektief te werk te gaan, is ‘n stompbehandeling waar slegs ongewenste bome geteiken word die mees selektiewe metode. Kaput 100 Gel is spesifiek ontwikkel vir hierdie doel.

Elke metode van onkruidbeheer het voor- en nadele, maar die beste uitweg is waarskynlik om die verskillende metodes te intigreer.  Die suksesvolste plan is ook díe een waar verskillende onkruiddoders gebruik word na gelang van omstandighede.

Die voordele van chemiese onkruidbeheer op heinings is o.a.:

  • Dit bespaar tyd.  Om te heinings te bespuit gaan baie vinniger as om te loop en bossies kap.

  • Die risiko van meganiese skade aan heining is minder as by meganiese beheermetodes.

  • Instandhouding en inspeksie word makliker omdat mens gou kan sien waar probleme aan die ontwikkel is.

  • Daar is gewoonlik ‘n kontrakteur-opsie om te oorweeg eerder as om die taak self aan te pak.

  • Geen of weinig grondversteuring vind plaas en daarom is onkruidsaad minder geneig om te ontkiem.  Sommige boomspesies, soos sekelbos, se wortels vorm gou nuwe plante as mens dit meganies beskadig.

  • Permante, of dan minstens langdurige, beheer van houtagtige plante is haalbaar.

  • Wortelopneembare onkruiddoders word nie deur ‘n heining gekeer nie.  Bome aan die buurman se kant van die heining kan dus ook geaffekteer of selfs gedood word al spuit mens net een kant van ‘n heining.  Verkry dus vooraf samewerking in die verband of spuit net “veilige” middels.

  • Kry kundige raad van iemand met die nodige praktiese ervaring en kennis van die tipe onkruiddoders wat benodig word vir die taak!

Faktore om in gedagte te hou voor ‘n chemiese onkruidbeheerprogram aangepak word:

  • Bespuiting moet vroeg genoeg in die seisoen plaasvind sodat plantmateriaal verweer of voordat die massa daarvan so toeneem dat dit ‘n brandgevaar inhou, maar nie so vroeg dat daar nog geen aktiewe groei plaasvind nie of dat die loof van teikenplante nog nie voldoende ontwikkel het vir effektiewe opname nie.  Die produketiket gee gewoonlik ‘n goeie aanduiding van die ontwikkelingstadium wat die geskiktste is vir behandeling.

  • Spuit wyd genoeg om brandskade te voorkom.  Grasse kan 2 – 3 m hoog word en dit maak dus min sin om net 0,5 m wyd te spuit in sulke gevalle!

  • Behandel altyd aktiewe groei, want dit kan bepaal hoe effektief die behandeling is.  Absorpsie is ‘n kritieke aspek van chemiese onkruidbeheer.  Sonder aktiewe groei kan onkruiddoders nie behoorlik geabsorbeer word nie en kan die produkte nie na behore funksioneer nie.

  • Behandel volgens voorskrif.  Baie navorsing word gedoen voordat ‘n produk geregistreer word en in die oorweldigende meerderheid van gevalle is dit nie nodig nie om unieke konkoksies saam te flans.

  • Hou behoorlik toesig oor die bespuitingsproses of stel ‘n betroubare kontrakteur aan.

  • Neem watergehalte in ag.  Sekere onkruiddoders is sensitief vir opgeloste soute in spuitwater.  As die kalkklippe rondlê naby die boorgat wat die spuitwater voorsien, moet gevaarligte flikker, veral as glifosaat maar ook sekere ander produkte gebruik word.  Opgeloste soute van kalsium, magnesium en natrium kan ‘n beduidende persentasie van die toegediende produk onaktief maak en sodoende resultate benadeel.

Hierdie artikel te danke aan Arysta LifeScience

Ferdie Jordaan
Technical Manager IVM – South Africa
Mobile: (+27) 83 636 7368

Email: ferdi.jordaan@arysta.com