INTERNE PARASIETBEHEER

Dr Douw Grobler en Paul du Toit

Die wildbedryf in Suid-Afrika het die afgelope paar jaar Landswyd geweldig gegroei, nie net in getalle nie maar ook in waarde, veral wat die meer eksotiese spesies soos swartwitpense, siektevrye buffels, bastergemsbokke en goue wildebeeste betref. Dit het tot nuwe uitdagings en geleenthede gelei. Dié uitdagings is nie net gemik op die diere of die rekordpryse wat jaarliks met veilings verbeter word nie, maar ook op die genetiese vlak waar die seleksie van diere tans hoofsaaklik op die trofeewaarde van die dier fokus. Dit is totaal in teenstelling met die natuur waar die vinnigste, sterkste en gehardste dier oorwin en oorleef.

Alzu Tipiese tekens
Tipiese tekens binne-in ’n trop van ’n maer koei met parasiete

Hierdie faktore is baie belangrik wanneer die immuniteit van ’n spesifieke dier in ag geneem word met die uitdaging van interne parasiete. Waar diere in die natuur vrylik rondbeweeg, kom hulle in aanraking met interne parasiete wat dan logies tot lae sterftesyfers sal lei as gevolg van hierdie parasiete. Ons kan dus redeneer dat die kanse vir infeksie baie laer is in dié omstandighede.

Daar is egter gevalle waar swakker diere (gewoonlik ouer of beseerde diere) wel deur parasiete oorweldig word en sterf juis as gevolg van hul verswakte kondisie. Met ’n meer intensiewe boerdery van eksotiese wildspesies, waar boere groter hoeveelhede diere in kleiner kampe aanhou, kan probleme met interne parasiete maklik ontstaan. Hierdie plae word nie so maklik beheer soos by skape en beeste waar die diere ingespuit of gedoseer word nie. Die uitbreek van hierdie plae kan potensieel tot groot ekonomiese verliese lei en permanente skade aan die diere aanrig. Soms kan dit selfs so ’n dier se dood veroorsaak

Dit is ’n alombekende feit in die skaap- en beesgemeenskap dat sekere parasiete weerstand opgebou het teen spuitstowwe wat verder tot groot verliese kan lei. Tans is daar baie min geregistreerde ontwurmingsmedikasies vir die beheer van interne parasiete in die wildbedryf. Die meeste van die simptome en uitslae word gebaseer op die toets van skape en beeste. Dit is beslis ’n potensiële navorsingsgebied met groot leemtes. Die basiese benadering vir die tel van gewone wurmeiers is om ’n monster van vars mis na die veearts te neem vir ’n deeglike ondersoek. Sodoende kan die wildboer ’n basis en patroon van die interne parasiet in die verskillende troppe bepaal.

Alzu rondewurmeier
Tipiese rondewurmeier van ’n besmette swartwitpens


Deur die jare is daar al verskeie planne gemaak om interne parasiete te beheer. Daar is al gebruik gemaak van plantekstrakte en minerale mengsels in verskeie vorms. Die probleem met hierdie metodes is egter dat daar nie beheer is oor die dosering van die middels nie, wat veroorsaak dat dit ondoeltreffend is, byvoorbeeld lekblokke. Dit is baie belangrik dat die regte hoeveelheid medikasie toegedien word – dit werk op die basis van milligramme van die aktiewe bestanddeel teenoor die gewig van die dier.

Indien daar te min van die middel gedoseer word, bou die parasiet ’n weerstand op teen die aktiewe bestanddeel. Hoewel meeste van die medikasies redelik veilig is en intensief getoets is op meeste huishoudelike diere, kan oordosering baie gevaarlik wees en verskeie negatiewe uitwerkings hê, soos vrugbaarheidsprobleme, aborsies, lewerskade en sterftes.

Dit is van kardinale belang vir wildboere om hul wild met net die beste, bekende en getoetste rantsoene te voer. Met ons land se wisselende seisoene is daar ’n groot verskil tussen die inname van minerale en vitamiene asook energiebehoeftes tussen winter- en somerstreke. Tydens die formulering van rantsoene moet die verskillende wildsoorte, hulle teeltye, watter maande hulle dragtig is en die soogperiode in ag geneem word. Gedurende hierdie maande is sommige diere se stresvlakke baie hoër, wat ook kan lei tot moonlike vatbaarheid vir en vinnige verspreiding van parasiete. Dié soort situasies vereis vinnige reaksie en ingryping, veral as die tipiese simptome voorkom.

Alzu sable 3
Die swartwitpense by ALZU is ’n kenmerkende voorbeeld van gesonde, parasietlose bokke

Die teenwoordigheid van interne parasiete is normaal in die natuur, solank dit binne die voorgeskrewe riglyne is. Sodra ’n situasie hom voordoen waar interne parasiete skadelike hoeveelhede bereik, moet dit dadelik behandel word. Dit is hier waar daar ’n baie nou band tussen die boer en die veearts moet bestaan sodat gereelde parasietevaluasies gedoen kan word. Doeltreffende dosering met die regte medikasie is van kritieke belang; onder- en oordosering moet ten alle koste vermy word.

Dit is hier waar addisionele voer ’n baie belangrike rol speel: ALZU Voere het met die beste voedingkundiges gekonsulteer om ’n voer te formuleer wat smaaklik en maklik verteerbaar is vir wild; daar is gekyk na gras- en blaarvreters. Hierdie twee aspekte is die belangrikste faktore wat die dier se vermoë beïnvloed om die rantsoen te verteer en voedingstowwe, belangrike vitamiene asook minerale soos sink en jodium, wat in die ALZU-formule voorkom, te absorbeer. Vir die eksklusiewe wildboer is maksimale horinggroei en optimale immuniteit van groot belang. Voortplanting is egter ook van wesenlike belang. Die vermoë van die vroulike dier om die beste sorg aan haar kalwers / lammers te verleen, hang veral in die geval van wild baie af van die hoeveelheid en gehalte voer wat tydens hierdie stresvolle tydperk tot haar beskikking is. ALZU het ’n reeks geformuleer: ALZU Wildspille – GP100 en GP Super.

Met die regte bestuurs- en voedingsprogram van ALZU-wildspille kan die wildboer verseker wees van optimale produksie en voortplanting van sy kudde om uitstekende genetika voort te sit. Dit is belangrik dat die boer ’n duidelike idee het van die hoeveelheid voer wat die diere inneem en daar moet geen kompetisie wees by die voerbakke nie; al die diere moet toegelaat word om op dieselfde tyd te vreet. Die meeste medikasies het ’n tydperk van drie tot sewe dae nodig om te verseker dat die regte dosis opgeneem word. Dit moet behoorlik bestuur en gemoniteer word. Opvolg-parasiettellings moet gedoen word om te verseker dat die medikasie sy werk gedoen het. ALZU Ondernemings het hul in die wildbedryf gevestig met beproefde voere van die beste gehalte teen bekostigbare pryse. Boonop is hierdie voere uiters smaaklik en doeltreffend vir alle groepe wild. ALZU gee die versekering dat die regte hoeveelheid medikasie deeglik in die voer ingemeng word. Moderne tegnologie word toegepas deur temperatuurbeheer om te verseker dat die aktiewe bestanddeel geen skade ly tydens die verpilproses van die voer nie. Sukses kan net gewaarborg word indien die medikasievoer toegedien word soos aanbeveel.

Daar is geen voorgeskrewe patroon vir die toediening van medikasie nie. Om byvoorbeeld te sê dat daar elke Maart of September parasietbeheer uitgeoefen moet word, is nie waar nie. Dit is baie belangrik vir ’n wildboer om ten alle tye bewus te wees van parasiete en gereeld parasiettellings te doen om te verseker dat die nodige behandeling plaasvind. Die beste tyd is moontlik gedurende die wintermaande wanneer dit droër in die meeste provinsies is. Baie probleme kan wel ná die eerste reëns ontstaan en daarom is dit belangrik om die parasietsituasie voortdurend dop te hou.

Dit is duidelik dat wildboere dit nie kan bekostig om waardevolle teeldiere weens abnormale interne parasiet-besmetting te verloor nie. Dit is belangrik dat al die diere altyd genoeg gevoer word om optimale potensiaal te bereik en gesond te wees. Dit is nie nou die tyd om met ongetoetste konkoksies te eksperimenteer nie – gebruik voere wat jy vertrou!

Kontak gerus vir Paul by ALZU Ondernemings. Hy sal jou adviseer en jou in kontak bring met professionele kenners wat jou kan raadgee en bystaan: paul@alzu.co.za